PLAASLIKE GRAAD 7 LEERDERS BESOEK KAAPSTAD |
Februarie 2023.
Veertig leerders van Laerskool Loeriesfontein het Kaapstad besoek, as deel van ‘n skoolopvoedkundige toer wat daarop gemik is om die leerders bloot te stel en te help om ‘n alternatiewe perspektief te kry, en terselfdertyd hul kennis uit te brei.
Tydens die vyf dae lange toer, wat deur die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanlegte befonds is, het die graad 7-leerders Tafelberg, die baie gewilde akwarium by die V&A Waterfront, besoek en selfs ‘n hawevaart aangedurf om die manjifieke Atlantiese Oseaan te geniet.
“Hierdie soort reise help jongmense om werklike ervarings op te doen wat nie in ‘n klaskamer geleer kan word nie, wat hul gedagtes oopmaak vir verskillende kulture en hul kennis van die wêreld rondom hulle versterk. Dit is om hierdie redes dat ons besluit het om die toer te ondersteun. Ons vertrou dat dit op ‘n manier sal help om leerders te motiveer om harder te werk en doelwitte vir hul toekoms te stel,” het Vanessa Fredericks, Ekonomiese Ontwikkelingsbestuurder vir Khobab-windkragaanleg, gesê.
Die toer het ‘n wonderlike geleentheid gebied vir leerders om herinneringe te skep wat ‘n leeftyd sal hou, asook om vakke lewendig te maak, hul selfvertroue ‘n hupstoot te gee, hulle te motiveer en goeie gedrag aan te moedig.
“Vir elke graad 7-leerder by Laerskool Loeriesfontein of enige plattelandse skool is dit ‘n onskatbare ervaring, want dit gee leerders wat op pad is na hoërskool in ander dorpe, of wat na matriek stad toe gaan verhuis, ‘n kans om hul horison te verbreed. As gevolg van hierdie toer kon die leerders ‘n hele wêreld van moontlikhede sien,” het Joline Klaaste, Laerskool Loeriesfontein-hoof afgesluit.
Hierdie ondersteuning is een van vele opvoedkundige programme en inisiatiewe wat die plaaslike windplaas in Loeriesfontein ondersteun. Die omvattende benadering strek regdeur tot tersiêre onderwys, met die beursprogram vir plaaslike Loeriesfontein-studente.