VERBETER GEMEENSKAPSDIENSTE EN ONDERSTEUNING |
Oktober 2023.
In samewerking met plaaslike belanghebbendes, die Hantam-munisipaliteit en die Noord-Kaapse Kantoor van die Premier, het die windkragaanlegte die proses begin om Loeriesfontein-inwoners te ondersteun om verbeterde toegang tot staatsdienste te kry. Die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanlegte het in beginsel met die Noord-Kaapse Kantoor van die Premier ooreengekom om ‘n Thusong-sentrum in Loeriesfontein te vestig, wat honderde gemeenskapslede sal help om toegang tot staatsdienste binne die dorp te verkry.
“Ons is opgewonde om deel te neem en saam te werk met die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanlegte en sien uit na ‘n lang verhouding om dienste tot by die drumpels van afgeleë gemeenskappe soos Loeriesfontein te bring,” het Ryan van Schalkwyk van die Premierkantoor gesê.
As deel van hierdie samewerking word kantoorruimte by die Loeriesfontein Besigheidsentrum verskaf, wat sal dien as ‘n deurslaggewende operasionele spilpunt vir die doeltreffende lewering van dienste aan die gemeenskap, insluitend gesondheidsorg, maatskaplike ontwikkeling, binnelandse sake, arbeid, SASSA en landbou dienste.
Die windkragaanlegte sal die besigheids hub in 2024 omskep in ‘n Thusong-sentrum.
“Hierdie vennootskap is ‘n voorbeeld van ons verbintenis tot die ontwikkeling van die Loeriesfontein-gemeenskap. Deur saam met plaaslike owerhede en staatsdepartemente te werk, fasiliteer ons die skepping van ’n beter toekoms vir alle inwoners,” het Vanessa Fredericks, Ekonomiese Ontwikkelingsbestuurder vir Loeriesfontein en Khobab-windkragaanlegte gesê.
Die windplase sal alle maandelikse nutskoste dek, soos waterdienste, afvalverwydering, tariewe en belasting, asook versekeringspremies, om te verseker dat die Thusong-dienssentrum sy hulpbronne kan fokus op die verskaffing van noodsaaklike dienste aan die gemeenskap. Infrastruktuurinstandhouding en opknappings sal ook gedek word, om te verseker dat die fasiliteit in ‘n uitstekende toestand bly.